«

»

Print this Post

Help ek is Verslaaf

Slimfone is wonderlik. En dis ‘n pes. Alles afhangend van hoe jy dit gebruik, natuurlik. Maar wanneer is dit gebruik, en wanneer verslawing, en hoe gemaak met ‘n kind wat gedurig op sy foon besig is?

Help – Ek is verslaaf!

  • Eintlik het jy hierdie artikel gelees vir raad oor jou kind, maar nou herken jy gevaarlik baie van jouself. Greenfield se raad aan selfoonverslaafdes is eenvoudig.
  • Wees bewus van die situasies en emosies wat jou voortdurend jou foon laat nadertrek. (Is jy dalk eensaam of depressief?)
  • Wees sterk – jy hoef nie dadelik op alles te reageer nie. ‘n Maklike manier is om alle “alerts” af te skakel (bv. op Facebook) of om jou foon se klank af te skakel.
  • Wees gedissiplineerd – maak reëls vir jouself. Dwing jou om jou selfoon sekere tye af te skakel of te ignoreer.

Wie onthou die dae voor Blackberrys en Apple iPhones? Die goeie ou tye toe jy nog met ‘n eerlike hart kon sê jy het nog nie daardie dringende e-pos ontvang nie, want jy is nie naby jou rekenaar nie. Toe kom die slimfone, en jou e-pos is skielik ‘n armlengte ver. En Facebook, met al jou vriende se doen en late, en ekonomiese aanwysers en weervoorspellings en musiek en die jongste wereldnuus en foto’s van jou kinders en en en …

Presies hóé verslawend slimfone is, vind ons almal toe uit toe ons Blackberrys vir drie dae in Oktober stil word. Vir baie het slimfone ‘n kommunikasie-naelstring geword, besef ek toe ek die frustrasie om my hoor en sien. Vir party is dit werklike frustrasie omdat hulle daaglikse werk daardeur geraak word. Vir baie is dit vreemd om nie per BBM van vriende en geliefdes te hoor nie. En vir heelparty is dit soos die eerste drie dae in ‘n rehabilitasie-kliniek met erge onttrekkingsimptome.

Ongelukkig het slimfone ‘n hoogs verslawende faset. Al ‘n paar tieners dopgehou wat vir mekaar sit en Mxit of BBM (dis Blackberry Message, vir die oningeligtes)? Of wat bymekaar, maar doof vir mekaar, sit en musiek luister, elkeen met ‘n eie slimfoon in die hand en eie oorfone in die oor? En boonop nog besig om te Facebook of te SMS dat jy net die duime sien beweeg?

Slimfoon-verslawing is ‘n wêreldwye neiging. Ofcom, ‘n Britse telekommunikasie-reguleerder, het vroeër vanjaar navorsing oor slimfoon gebruik in die Verenigde Koninkryk bekend gemaak, en die statistieke is kommerwekkend.

Een uit elke drie volwassenes en 60% tieners het erken hulle is erg verslaaf aan hul fone. Meer as die helfte van volwassenes (51%) en 65% van tieners het erken hulle gebruik hul slimfoon terwyl hulle sosialiseer met ander, met byna ‘n kwart van die volwassenes (23%) en ‘n derde van die tieners (34%) wat hul slimfone tydens etes gebruik. Nie eens badkamers is slimfoon-bestand nie, want 22% volwassenes en 47% tieners antwoord hulle fone selfs daar. Soos James Thickett, Ofcom se direkteur van navorsing tereg opgemerk het: “Slimfone verander sosiale etiket, en tegnologie dryf ons waardes.”

Dr. David Greenfield, Amerikaanse sielkundige en skrywer van die boek Virtual Addiction: Help for Netheads, Cyberfreaks, and Those Who Love Them sê slimfone is potensieel verslawend.

Soos met ander verslawings, skryf hy, het die gebruiker meer en meer daarvan nodig, anders tree onttrekkingsimptome in. Hy verduidelik dat rekenaaraktiwiteite (en dus ook slimfone) verslawend is omdat hulle “psychoactive” is – dit beteken hulle kan ons bui verander en genoeglike gevoelens skep. E-pos, veral, gee ons iets wat Greenfield en ander kenners “variable ratio reinforcement” noem. “Ons weet nooit wanneer ons ‘n bevredigende e-pos gaan kry nie, so ons kyk aanmekaar of daar nie ‘n nuwe, lekkerder een gekom het nie.”

Greenfield vergelyk dit met dobbelmasjiene, en sê ons soek daardie één ding – ‘n kombinasie simbole op ‘n dobbelmasjien, of ‘n e-pos of FB-boodskap – wat ons groot plesier verskaf.

Is jou kind (of jy dalk) verslaaf?

Kenners beskou die volgende as tekens van selfoon-verslawing. Toets jouself sommer ook.

  1. Het hy nodig om elke kort-kort te kyk vir nuwe e-posse, BBM’s of SMS’e?
  2. Verloop daar minder as tien minute tussen elke keer wat daar gekyk moet word?
  3. Is die foon altyd byderhand, waar hy of sy ook al in die huis is? (Of jyself op kantoor?)
  4. Kan sy eenvoudig nie die huis verlaat sonder haar foon nie? Byna soos ‘n soort skeidingsangs?
  5. Voel sy verlore sonder ‘n foon by haar?
  6. Meng die foon in met skoolwerk of gesinslewe?
  7. Meng dit in met konsentrasie? (Sukkel jy byvoorbeeld om ‘n artikel of ‘n boek te lees omdat jy kort-kort op jou selfoon moet loer?)
  8. Moet jy opgradeer na nuwe data-pakkette omdat die lugtyd/ data op is voor die maand om is?
  9. Is die selfoon die eerste ding waarna soggens gegryp word, al is die oë nog kwalik oop?
  10. Hoor hulle soms die foon in hul verbeelding terwyl hy eintlik tjoepstil is?
  11. Is sy of haar  vingers-op-die-foon in onvanpaste plekke soos die kerk, fliek of konserte?

Verslaaf of verlief?

Martin Lindstrom, skrywer van Brand-washed: Tricks Companies Use to Manipulate Our Minds and Persuade Us to Buy, het onlangs, na Steve Jobs van Apple se dood, ‘n insiggewende artikel in die New York Times geskryf waarin hy beweer ons “intense verhoudings” met ons fone is nie net verslawing nie, maar eerder liefde.

As handelsmerk-konsultant volg hy die handelsmerk Apple reeds jare lank, en hy vertel van sy eie eksperimente waarin funksionele magnetiese resonansieskanderings (fMRI) gebruik is om die ooreenkomste tussen gewilde handelsmerke en godsdiens te ondersoek. Met fMRI kon mense se breinaktiwiteit dopgehou word terwyl hulle kyk na handelsmerke (soos Apple en Harley Davidson) en godsdienstige voorwerpe soos bidkrale of ‘n foto van die pous. Lindstrom skryf dat daar sterk ooreenkomste was tussen brein-aktiwiteit t.o.v, albei onderwerpe.

Hy het vroeër vanjaar weer fMRI ingespan om te bepaal of selfone so verslawend is soos alkohol, kokaien, inkopies of video-speletjies. Hy wou toets of dopamien, ‘n neuro-oordragstof wat jou laat goed voel, ‘n rol speel, soos in die geval van dwelms, tabak of kos.

Met sy navorsing het hy ‘n verstommende ontdekking gemaak: die breinaktiwiteit wat geregistreer het by al 16 proefko- nyne wat blootgestel was aan klank- en videogrepe van luiende en vibrerende iPhone’s, was in die korteks van die brein. Die korteks is die deel van die brein wat verbind word met liefde en meegevoel, asof hulle naby ‘n geliefde of familielid was! Van die klassieke brein-gebaseerde tekens van verslawing was daar nie tekens nie.

Sy gevolgtrekking? “Vir baie mense is hul iPhones hul beste vriend, metgesel, lewenslyn, maat en, ja, selfs hul Valentyn. Die man of vrou vir wie jy lief is, sit dalk net oorkant jou in ‘n romantiese straatkafee, maar sy of haar 16GB-mededinger is in jou binnesak, langs jou hart. My raad? Sit af jou iPhone, bestel sjampanje en vind liefde en deernis op die outydse manier.”

Hoe keer ek selfoonverslawing by my kind?

Nellie Prinsloo, ‘n kliniese sielkundige van Alberton, sê ouers kan selfoonverslawing by kinders keer. Hier is haar raad.

  • Neem jou kind se behoeftes, ontwikkelingsvlak en persoonlikheid in ag voordat jy vir hom ‘n selfoon gee. “Jy ken jou kind, en weet watter kind dalk heeltemal oorboord sal gaan met ‘n slimfoon. Onthou, die finale besluit oor wat jou kind kry, berus by jou. Dis heeltemal onnodig om vir ‘n jong kind ‘n slimfoon te koop. Ongelukkig val ouers te maklik vir die hele byhou-by-die-Smitte-sindroom.”
  • Beperk jou kind se tyd op die foon, en sit ‘n beperking op sy selfoonkontrak. “As jy ‘n kind onbeperkte tyd op die foon en onbeperkte lugtyd gee, soek jy moeilikheid,” sê Nellie.  Maak reëls, soos selfoonvrye gesinstyd of kuiertyd, en verbied selfone aan etenstafel. “Kry hulle dan betrokke by ‘n gesprek deur vrae te vra en hul aandag af te trek van hul fone. Kort voor lank mis niemand meer hul selfone nie.” Deur selfone in gesinstyd en aan etenstafel te verbied, skep jy vir jou kind sekuriteit, want jy help hom om te leer van balans tussen sy sosiale behoeftes, sy gesin en vriende en die nodigheid van self-dissipline. Nellie sê ouers moet tydens kuiers met maats ingryp as hulle sien die kinders kuier nie met mekaar nie, maar sit heeltyd op hul selfone. “Sê, sonder om die kinders te verneder, dat dit nou kuiertyd is, want hulle is bymekaar, en dat hulle later, wanneer almal by die huis is, weer vir mekaar kan boodskappe stuur.”
  • Leer jou kind dat ‘n selfoon niemand se baas mag wees nie. Begin deur ook jou foon soms af te skakel. “Leer hulle onderskei tussen belangrike oproepe en SMS’e.” Vra ook om verskoning as jy in gesinstyd wel ‘n dringende oproep moet maak of beantwoord.
  • Oordink die ware rede hoekom jy vir jou kind ‘n duur selfoon gegee het. “Om jou gewete te sus, of omdat hy of sy dit werklik nodig het? Of was dit om hom of haar uit jou hare en besig te hou, of te laat inpas by maats?” Nellie voel baie sterk daaroor dat kinders nie alles moet kry wat hulle begeer nie, en se dis noodsaaklik dat ouers sterk leiding neem in die vestiging van kinders se waardes.
Artikel Deur: Ilse Salzwedel.
Die artikel is geneem uit die Desember 2011
uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.

 

Permanent link to this article: http://www.hsda.co.za/site/help-ek-is-verslaaf/