2019 Stigtersdag





HUIS STERRIE MARAIS EN HUIS JAN PIENAAR VIER STIGTERSDAG

Op Woensdag, 15 Mei 2019 het Huis Sterrie Marais en Huis Jan Pienaar hul Stigtersdag gevier. Op hierdie dag word daar heerlik saamgekuier met die families van die stigters van die koshuise, Sterrie Marais en Jan Pienaar.

Na drie kort weke by koshuis, as gevolg van al die vakansiedae, het die koshuisgangers nie baie uitgesien na die eerste lang week in ‘n lang tyd nie – totdat hulle gehoor het dat dit Stigtersdag op Woensdag, 15 Mei sal wees. Hulle het toe sommer die slapies begin aftel. Daar was ‘n kolwyntjie-kompetisie vir die kleiner inwoners. Hulle kon na hartelus kolwyntjies versier die middag voor die koshuis op die mooi groen grasperk! Daar was versiersuiker in alle kleure en mooi versierings wat hulle kon gebruik om die kolwyntjies nog mooier te maak. Dit was een groot lekkerte. En soms is die vingers ook lekker afgelek. Baie dankie aan die dierbare matrones vir al die voorbereiding hiermee.

Mev Ilse Marais was die beoordeelaar en het ‘n groot taak gehad om die wenners aan te wys. In die afdeling van die Graad 1 en 2’s het Chrismari Olivier die trofee verower en kort op haar hakke was Jeani Theron en Jacques Esterhuizen. By die Graad 3 afdeling het Isabel J. Van Rensburg die trofee gewen en net na haar was Roelf du Plessis en Tommie Olivier. In die Graad 4 afdeling het Johandré Ungerer die trofee gewen en ‘n kort koppie agter hom was Kahl Paul en Rico van Heerden. Lyk my die seuns was sterk Koekedoortjies die jaar by Huis Sterrie Marais.

Daarna kon almal lekker smul aan ‘n hamburger wat hulle self kon bymekaar sit. Later die aand kon die Graad 1-6 leerders lekker sokkie in hulle TV-kamer met neonstokkies om hulle enkels, nekke en arms. Dit was baie lekker! Die Graad 7-12 leerders het ook lekker Neonsokkie in die studiesaal gehou en het hulle beste danspassies uitgehaal.

Agter die eetsaal het die ouers heerlik om die braaivure gekuier toe steaks op die kole gebraai is. Die ouers het ook die heerlike aansit-ete in die eetsaal geniet, saam met een van die stigters se familie, Mnr Sterrie Marais en Ilze Marais. Die matrones het smullekker bykosse voorberei. Ongelukkig kon Mnr Jan Pienaar en Mev Rentia Pienaar nie die jaar teenwoordig wees nie as gevolg van ander verpligtinge.

In Huis Sterrie Marais en Huis Jan Pienaar is elke dag sommer ‘n bederfdag waar almal gelukkig saamwoon en persoonlike aandag kry, maar dan is daar ook een van die heerlike hoogtepunte in die inwoners se jaar soos Stigtersdag! Volgende jaar maak ons weer so!





Daar was ‘n kolwyntjie-kompetisie vir die kleiner inwoners.

Hulle kon na hartelus kolwyntjies versier (Graad 1 - 7)





Graad 1-2 wenners saam met Me. Ilze Marais (stigters se familie en eggenoot van Mnr Sterrie Marais)

Chris-Mari Olivier 1, Jeanie Theron 2, Jacques Esterhuizen 3



Graad 3 wenners saam met Me. Ilze Marais (stigters se familie en eggenoot van Mnr Sterrie Marais)

Roelf du Plessis 3, Tommie Olivier 2, Isabel J van Rensburg 1



Graad 4-7 wenners: Me. Ilzé Marais saam met Johandré Ungerer 2de

Nie op die foto: 1. Rico van Heerden, 3 Carl Paul