SA Protea skiet



SA skuts skitter in Engeland

Daniël en Philip du Toit, leerlinge van Hoërskool De Aar, het op 8 Julie 2018 na Engeland vertrek om aan die 149ste Imperial Meeting deel te neem as deel van die SA Junior o/19 span. Vanaf 16 Julie tot en met 20 Julie het hulle aan die School's Meeting deelgeneem. Hulle het egter hierdie kompetisies as oefening gebruik vir die Nasionale kompetisie wat gevolg het. Die afstande vir hierdie kompetisies was onderskeidelik 300, 500, 600, 900 en 1000 yards. Daar was verskeie kompetisies op die verskillende afstande geskiet. Die heel belangrikste kompetisie was die H.M. Queen's Prize. Hierdie kompetisie bestaan uit drie stadiums. Die eerste stadium word deur alle deelnemers geskiet. Vir die tweede stadium word die top 300 gekies en na die tweede stadium word slegs die beste 100 gekies vir die derde stadium. Daniël het gevorder tot en met die derde stadium wat op 'n 900 en 'n 1000 yards plaasgevind het. Behalwe vir die individuele kompetisie was daar ook spanskiete gewees. Daar was twee toetse wat tussen Suid-Afrika, Engeland en Kanada plaasgevind het. Ongelukkig het Suid-Afrika nie een van hierdie twee toetse gewen nie. 'n Derde toets het tussen Suid-Afrika en Engeland plaasgevind en die SA-span het nie daarin geslaag om die Engelse span ore aan te sit nie. Philip het wel met een van hierdie toetse die hoogste telling onder die SA-span behaal. Beide Daniël en Philip het uitmuntende prestasies behaal en sal weer saam met die SA-span die Engelse die stryd aansê met die aankomende Nasionale kampioenskappe.