2019 Matriekuitslae





HSDA MATRIEKS SKITTER WEER!

Talle matrikulante het van verligting gesug nadat die senutergende gewag vir die klas van 2019 verby is. Die matriekuitslae is op Woensdag 8 Januarie 2020 landswyd bekendgemaak.

Hoërskool De Aar is baie trots op die matriekklas van 2019 se uitslae. Die NSS–eksamen het groot uitdagings aan hierdie klas gestel, wat hul oorkom het. Die matriekklas het ʼn 98.7% slaagsyfer behaal terwyl 73% van die 77 leerders vir verdere graadstudies kwalifiseer. Vier leerders Daniël du Toit, Enchanté du Preez, Bernard Venter en Surina le Roux het puik presteer en spog met ʼn gemiddelde A-simbool.

Daniël du Toit en Enchanté du Preez het spesiale erkenning tydens die Onderwysdepartement se Prysuitdelingsfunksie in Kimberley ontvang. Daniël het die 12de plek in die Noord-Kaap behaal. Beide Daniël en Enchanté het elk ʼn bedrag van R10 000, ʼn skootrekenaar en ʼn tablet ontvang.

Vyf leerders Vuyokazi Mdebuka, Mouritz Erasmus, Thandokazi Ntozini, Mari Pretorius en Courtney Campbell het ʼn gemiddelde B-simbool behaal.



HSDA se hoofseun, Daniël du Toit, het uitmuntend presteer met sewe vak A’s en ʼn gemiddeld van 88%. Hy is die seun van Pieter en Elmarie du Toit. Daniël presteer nie net op akademiese gebied nie, maar is ook ʼn Protea-skut. Daniël het tydens HSDA se Toekenningsgeleentheid die toekenning vir die seun wat die hoogste punt in graad 12 verwerf asook ʼn goue sertifikaat ontvang. Daniël beplan om vanjaar BSc Mikrobiologie en Chemie aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer. Sy sleutel tot sukses en boodskap vir mede-leerders is: “Deur selfdissipline, deursettingsvermoë en dit vir jouself te doen, kan jy enige iets bereik.”



HSDA se hoofmeisie, Enchanté du Preez, behaal 7 vak A’s en ʼn gemiddeld van 86%. Sy is die dogter van Rudi en Jennifer du Preez. Enchanté het tydens HSDA se Toekenningsgeleentheid die toekenning vir die dogter wat die hoogste punt in graad 12 verwerf asook ʼn goue sertifikaat ontvang. Sy het Noord-Kaap verteenwoordig in Netbal. Enchanté beplan om Aptekerswese aan die Universiteit van Potchefstroom te studeer. Haar sleutel tot sukses en boodskap vir mede-leerders is: “My persoonlike akademiese prestasie is eerstens te danke aan die Onse Vader vir wie niks onmoontlik is nie. Tweedens, moet jy in jouself glo. Stel aan jouself doelwitte en bly daarop gefokus. Derdens, neem aan so veel as moontlik akademiese-, sport- en kultuurgeleenthede deel. Ek het geleer dat goeie blootstelling en ondervinding aan jou die geleentheid bied om jou te meet en dan harder te werk sodat jy beter in die toekoms kan doen. Aan alle leerders van ons skool werk hard en wees gedissiplineerd. Stel aan die begin van die jaar vir jouself doelwitte en moet nie moeg raak nie. Maak gebruik van elke geleentheid wat jou aangebied word. Wees betrokke, neem deel en wees ‘n rolmodel vir ander. Vra raad en omring jou met positiewe vriende. Aan die matriekklas van 2020. Onthou dit is julle laaste jaar om julself te bewys. Bly gefokus en leef georganiseerd. Wees bereid om baie opofferings te maak. Leer jouself om daagliks tyd aan jou studies te bestee. Pak elke uitdaging positief aan en glo in jou eie vermoë. Aan almal, baie sterkte met die jaar wat voor lê.”



Bernard Venter behaal 6 vak A’s en ʼn gemiddeld van 83%. Hy is die seun van De Waal en Anrié Venter. Hy ontvang ook tydens HSDA se Toekenningsgeleentheid ʼn goue sertifikaat. Hy was ook onderkaptein van die Cravenweek Akademie rugbyspan. Hy het Griqualand-Wes Rugby vir die Akademie-span gespeel. Bernard gaan Meganiese Ingenieurswese aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie van die Vrystaat studeer. Sy sleutel tot sukses en boodskap vir mede-leerders is: “Wat my gehelp het, was om deur die jaar op te let en op datum te bly. As jy agter raak, sukkel jy baie om in te haal. Jy moet die selfdissipline hê om te leer, maar steeds ‘n gebalanseerde lewe te handhaaf.”



Surina le Roux behaal ook 5 vak A’s en ʼn gemiddeld van 82%. Sy is die dogter van Phillip en Ilze le Roux. Surina was 2019 se Dux-leerling en het ook tydens HSDA se Toekenningsgeleentheid ʼn goue sertifikaat ontvang. Sy het in die verlede Noord-kaap verteenwoordig in Tennis en Hokkie. Surina beplan om Arbeidsterapie aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer. Haar sleutel tot sukses en boodskap vir mede-leerders is: “Luister in die klas en neem deel aan die klasgesprekke, want dit gaan jou dwing om by te bly met wat die onderwysers vir jou leer. Hanteer elke toets soos ‘n eksamen en die eindeksamen sal ‘n “breeze” wees. Maak seker al jou werk is op datum sodat jy genoeg tyd het om vorige vraestelle uit te werk gedurende jou bloktydperk. Maak seker jy doen sport of gaan draf gereeld, anders gaan jou brein se ratte nie lekker werk nie.”





Benewens die feit dat HSDA toegerus is met ʼn span professionele en hardwerkende onderwysers, is die eindresultate nie net geskoei op harde werk in graad 12 nie, maar ook danksy die onderskeie laerskole wat die grondslag lê. Die liefde, ondersteuning en aanmoediging van elke ouer kan ook nie agterweë gelaat word nie.

HSDA beskik oor genoegsame en uitstekende fasiliteite vir akademiese onderrig sowel as vir die beoefening van buitemuurse aktiwiteite. Dit is beslis ʼn skool waar kinders hulle volle potensiaal kan verwesenlik!