CHRISTO

Oudleerder verteenwoordig SA by Wêreldbeker Darts-toernooi in Suid-Korea
Christo het van jongs af 'n liefde vir darts ontwikkel, maar het in 2022 weer kompeterend begin speel nadat hy by die Stikland Darts Club aangesluit het, toe hul gesin Kaap toe verhuis het.
Sedertdien het sy loopbaan meteens momentum gekry.
In 2024 het Christo vanaf die Mans C-Span opgevorder na die Mans A-Span en is gekies om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem.
Sy uitstekende spel het hom verder gesien opgeneem word in die Wes-Kaap span, en uiteindelik gekroon met insluiting in die nasionale Protea-span – alles binne een jaar! Dít is ’n merkwaardige prestasie wat nie sommer aldag voorkom nie.
Christo en sy spanmaats het vandag vertrek na Seoul, Suid-Korea, waar hulle Suid-Afrika gaan verteenwoordig teen 47 ander lande in die 2025 WDF World Cup.
Hy speel tans vir die West Peninsula Darts Association (WPDA).
Ons wens Christo alle sukses toe op die internasionale verhoog en is trots om een van ons eie oudskoliere so hoog te sien vlieg!