2021 Eerste Kwartaal





Akademie, sport en kultuur is Kaalvoetkindkoshuis se kos

Dit was ‘n lekker besige en vol eerste kwartaal in 2021 vir die inwoners van ons koshuis, Huis Sterrie Marais en Huis Jan Pienaar. Die jaar het sommer vinnig met ‘n hele paar nuwe gesiggies afgeskop wat hulle intrek in die koshuis geneem het, en blitsig het hulle deel van ons warm Koshuisfamilie geword!

Die opwinding het vroeg begin met ons jaarlikse Inheemse Sportdag, wat die kinders sowel as die personeel terdeë geniet het. Ons kaalvoetkindertjies het nie op hulle laat wag nie en het binne oomblikke die koshuisterrein hulle eie gemaak en daar was vinnig plase uitgelê. Daar is onder andere paaie gebou, kampe afgebaken, klipdiere het oral begin rondstaan en selfs ‘n draadkarparkeerterrein is uitgelê. Hier moes die ouers op hulle voete dink waar daar wel gery, gestop en parkeer mag word.

Daar is ook met sportoefeninge en ander buitemuurse aktiwiteite vir die Junior Primêre Skool (JPS)-kinders begin, en ons Meneer Cobus Pretorius het met die JPS-bussie, tesame met ons matrones gesorg dat almal betyds en in een stuk by al hulle aktiwiteite uitkom. Die laerskoolkinders was ook volstoom aan die gang en ons is baie trots op die pragtige prestasies wat ons kinders by vanjaar se ATKV-redenaarsuitdunrondtes behaal het. Daar is ook tennis gespeel en ons is baie opgewonde oor die wonderlike resultate wat ons koshuiskinders by die 2021 Betlehem Tennistoernooi behaal het.

Ook ons hoërskoolkinders van Huis Jan Pienaar het volstoom aan die werk gespring en daar was uitmuntende uitslae op die fietsry-, gholf- en tennisbane asook op die karatemat behaal. Nie net was daar hard op die sportveld geoefen nie, maar ons kinders het 100% hulle kant op akademiese gebied gebring; dit ondanks al die uitdagings wat die pandemie aan hulle gestel het. Ons is voorwaar baie trots op elkeen van ons kinders.

Van die Covid-19-pandemie gepraat, het ons personeel ook kliphard gewerk om ons kinders se veiligheid tydens hierdie tyd te verseker. Koppelend hiermee is ons koshuis altyd silwerskoon en ontsmet en het die personeel ook die kinders gehelp om al die prosedures en reëls sommer vinnig baas te raak. Ons as ouers is ongelooflik dankbaar vir elkeen se harde werk en opofferings vir ons kinders.

’n Groot dank gaan ook uit aan die hele gemeenskap vir julle volgehoue ondersteuning aan ons koshuis. Ons waardeer dit opreg. Saam met u kan ons Karookaalvoetkindkoshuis net van krag-tot-krag gaan!

Baie sterkte aan al ons leerders, personeellede, ouers en ondersteuners vir die komende kwartaal.



ʼn Paar koshuisleerders geniet die draadkarre en speel soos van ouds!