2025 Opedag vir Graad 7’s
Hoërskool De Aar spog met ‘n suksesvolle opedag vir Graad 7’s
Hoërskool De Aar het op 15 Mei die graad 7’s by ‘n baie suksesvolle opeaand verwelkom.
Die Arend tesame met die SR het die graad 7’s en hul ouers welkom geheet.
Die aand het begin met 'n "Big Brag" waartydens daar ‘n pragtige vlagseremonie was, die Pom-poms gedans het, en die eerste spanne hulle kreet gedoen het. Inligting rakende die skool is met hulle gedeel en die huidige graad 8’s het ook hul eie ervaringe van die skool gedeel.
Die graad 7’s het verdaag en is deur die SR na klasse vergesel. In die Verbruikerstudieklas het juffrou Nadia Nel tesame met haar graad 12-leerders, gewys hoe hulle hul praktiese assesserings voltooi en elke graad 7-leerling kon aan die einde van die aand ‘n heerlike springmieliebal gekry. In die Lewenswetenskappeklas kon hulle na ‘n verskeidenheid organe kyk en selfs sien hoe longe opgeblaas word. Die Fisiese Wetenskappe klas het Juffrou Koen eksperimente gedoen waar hulle geheime boodskappe kon ontleed deur gebruik te maak van sure en basisse. In die Rekenaar Toepassings Tegnologieklas het meneer Evelyn Botha verduidelik hoe om webtuistes te maak en Meneer van Wyk het in die Landboutegnologieklas die kinders toegrus hoe om metaal te sny en te buig.
Terwyl die graad 7’s deur die skool toer het die ouers, tesame met die onderwysers, ‘n heerlike koppie sop geniet en gesels met mede graad 7-ouers en HSDA onderwysers.
Ons by Hoërskool De Aar sien uit daarna om al die graad 7’s ware Arende van HSDA te maak!














