Mediumskole-netballiga





HSDA NETBAL

Al vier ons netbalspanne wat vanjaar in die mediumskole-netballiga ingeskryf was, het deurgedring na die kwarteindrondes van die liga.

Dit is op Saterdag, 9 Augustus, in Kimberley gespeel.

Die o.14-span het teen HMO afgeskop. Alhoewel hulle aanvanklik gesukkel het om aan die gang te kom, het hulle spel vinnig verbeter en ’n plek in die semi-finaal verseker.

Hier het hulle teen HS Douglas te staan gekom. Ten spyte van volgehoue druk op die opponente, kon hulle ongelukkig nie die wen behaal nie.

Hulle het dus deurgedring na die kleinskole-finaal teen Postmasburg, waar hulle as wenners uit die stryd getree het. 🏆

Die o.15-span het ook hul dag begin met ’n wedstryd teen HMO. Al het hulle dapper geveg, kon hulle nie al die foute uitskakel nie.

Hulle verloor ongelukkig met 15–10.

Die o.17-span het direk deurgedring na die semi-finaal, waar hulle vir Postmasburg ontmoet het.

Hul samespel was op tye uitstekend, maar hulle het soms ook gesukkel om by die fisiese aard van die wedstryd aan te pas.

Ten spyte van die uitdagings, het hulle met 12–10 as oorwinnaars van die baan gestap.

In die mediumskole-finaal het teen Daniëlskuil gespeel. Die langer verdedigers van die opponente het ons aanval bemoeilik en verkeerde besluitneming onder druk het veroorsaak dat ons met 4 doele verloor - wat ons dus ’n tweede plek in die liga besorg het.

Die eerstespan het in ’n senutergende wedstryd teen Curro Kathu gespeel. Selfs sonder hul staatmaker-senter het hulle gewys waartoe hulle in staat is! 💪

Hulle het uitstekende spel gelewer, vasgebyt tot die einde en goed aangepas by veranderinge in die span. Ongelukkig het hulle met slegs 1 doel verloor.

Die afsluiting van die 2025-netbalseisoen was egter ’n hoogtepunt. Ons spelers het gewys wat in hulle steek – nie net in netbal nie, maar ook in karakter en spanwerk.

HSDA Arende – voorwaar! 🦅



Netbal o.14 wen kleinskole-liga.



Netbal o.17 eindig tweede in die mediumskole-liga 🥈