o.15 netbal is die mediumskole wenners 🥳
Op Saterdag 8 Augustus het twee van ons netbalspanne deurgedring na die finale in die Mediumskoleliga in Kimberley. Die o.14-span speel reeds in die eerste rondte teen Curro Kathu. Hulle neem gou die voortou en wen die wedstryd gemaklik 14 – 7. Daarna kompeteer hul in die semi-finale teen HS Hopetown. Met uitstekende spel, slaag hulle daarin om 17 – 5 te wen. In die finale wedstryd speel hulle teen HS Hartswater. Tot halftyd bly dit ‘n kop-aan-kop stryd. Senuwees begin sy tol eis en onnodige foute na halftyd laat die span agter raak. Hul kom met ‘n baie goeie terugveg poging, maar ongelukkig is daar nie genoeg tyd om die agterstand uit te wis nie. Die o.14-span eindig dus tweede in die Mediumskoleliga. Die o.15-span speel in hul eerste wedstryd teen HMO. Hul wen 15 – 1. Daarna is hul slaags met HS Douglas in ‘n verbete stryd. Hul moet na halftyd ‘n agterstand inhaal. Die goeie spel van die Doelverdediger maak dit egter moontlik om genoeg balle te draai en wen hulle die wedstryd 8 – 6. Ook húlle moet vir HS Hartswater in die finaal aanvat. Hul skitterende spanspel en veggees tot die einde verseker hul oorwinning en kan hul met trots as die wenners van die Mediumskoleliga uit die stryd tree. Baie geluk! HSDA is trots op jul jong Arende wat so hoog vlieg🦅