🏉 HSDA KRAAI KONING IN DIE MEDIUMSKOLELIGA 🏉
Op Saterdag, 22 Augustus 2026, het die finaal van die mediumskoleliga by Suzuki Park in Kimberley plaasgevind. Dit was ’n dag vol spanning, trots en emosie, waartydens HSDA se rugbyspelers hul harte op die veld gelos het. Die o.17-span het ongelukkig hul wedstryd teen Hoërskool Prieska verloor, terwyl die o.15-span ook teen Hoërskool Douglas die knie moes buig. Al was dit nie die uitslae waarop hulle gehoop het nie, het albei spanne tot die einde toe moedig geveg en nooit moed opgegee nie. HSDA se o.15- en o.17-spanne eindig dus tweede in die mediumskoleliga vir die jaar – ’n besondere prestasie waarop elke speler baie trots kan wees!🥈 Die eerste span van HSDA het teen Curro Kathu te staan gekom. Dit was ’n ware naelbytstryd wat almal tot in die laaste sekondes op die punte van hul stoele gehad het! Die spelers het met ongelooflike vasberadenheid, moed en trots aangehou veg. Toe die eindfluitjie blaas, het HSDA met 42–35 gewen en is die eerstespan as die kampioene van die mediumskoleliga gekroon! 🏆🥇 Hierdie oorwinning is die resultaat van maande se harde werk, lang oefensessies, opoffering en deursettingsvermoë. Elke speler het sy deel gedoen en vir die span, die skool en sy spanmaats geveg. ’n Baie groot dankie aan ons borge, die gemeenskap, ouers, afrigters en elke persoon wat die seuns gedurende hierdie seisoen ondersteun, aangemoedig en in hulle bly glo het. Julle ondersteuning langs die veld en agter die skerms het vir die spelers meer beteken as wat woorde kan beskryf. Aan elke speler: dankie vir julle harde werk, toewyding en die trots waarmee julle HSDA verteenwoordig het. Julle het gewys wat dit beteken om tot die einde toe te veg en nooit moed op te gee nie. 💪 Baie geluk aan al drie ons spanne met ’n onvergeetlike seisoen. Julle het HSDA ongelooflik trots gemaak!